Eendag was daar n Koning en n Prins. Die Prins was oud genoeg dat die tyd aangebreek het dat die Prins n bruid moes kry.
Eendag, oppad om te gaan jag in die digte woud, hoor die Prins vreeslike gromgeluide. Hy ry in die rigting van die afskuwelike geluide en sien 'n beer wat besig om 'n prinses vas te keer teen 'n dik donker boomstam. Die beer draai om om die Prins te sien, en dadelik haal Hy Sy pyl en boog uit en skiet die beer in die hart. Hy hardloop na die prinses om te sien hoe erg die skade aan haar fyn ligaam is... Die beer het haar met sy naels in die hande gekry en vel plek-plek van haar liggaam afgskeur. Hy tel haar sagkens op om haar nie verder seer te maak nie en ry versigtig met haar na Sy paleis waar Hy haar wonde kan versorg.
By die paleis gekom, was Hy al die vuil van haar af en verbind Hy haar wonde. Hy berei vir haar die mooiste kamer voor met fyn linne en die reuk van jaspis. Hier sien Hy self om na haar dag na dag...
Gedurende die volgende paar weke bring die Prins en prinses baie alleentyd deur waar die Prins na die herstel van die prinses omsien, en raak Hy verlief op die prinses en wil Hy haar Sy bruid maak. Maar die prinses bly terug hunker na die stad waar sy vandaan kom en sy verlang baie terug na haar mense, alhoewel sy nie die liefde wat sy by die Prins kry, ooit by hulle gekry het nie, maar nogsteeds gee sy net nie haar hele hart vir Hom nie. Die Prins gee nie moed op nie, dag na dag probeer Hy haar hart wen.
Op 'n dag wil die Prins weer die prinses gaan besoek in haar kamer, maar tot Sy onsteltenis, is sy nêrens te vinde nie. Sonder om hom te groet of vir hom dankie te sê dat Hy haar gered het uit die kloue van die dood, om dankie te sê dat Hy haar Redder is, om dankie se sê dat Hy haar skoongewas en al haar wonde verbind het, het sy die pad gevat deur die donker woud oppad terug na die groot stad waar sy vandaan kom. Die Prins klim op Sy wit perd en jaag die donker bos in. Dan hoor hy weer die afskuwelike gromgeluide van 'n beer... Hy jaag in die rigting van die geluide, maar ongelukkig is Hy hierdie keer te laat, 'n beer het klaar die prinses doodgemaak. Sy hart is gebreek - as sy maar net haar hart vir Hom wou gee, as sy maar net haar ou lewe en mense wou vergeet, maar sy wou nie.... Sy kon soveel veiliger en meer geliefd gewees het saam met die Prins.
As Jesus, die Prins, jou red uit die kloue van 'n beer, jou skoonwas en al jou wonde genees, hoe kan jy dan nie jou hele hart vir Hom wil gee en Sy bruid wees nie...As jy jou rug op Jesus draai en wil teruggaan na jou ou lewe, na jou mense en huis toe - nadat Hy jou so versorg het, verwag dan bere op jou pad.
Ek dink nie ons besef regtig hoe lief God ons het nie en hoe verskriklik hartseer dit Hom maak as Hy ons hart probeer wen, maar ons weghardloop nie, omdat daar nog te veel dinge in die wêreld is wat ons kies bo Jesus.
Die Here gee die volgende Skrif:
Psalm 45: n Lied van die liefde
2 My hart word bewoë deur goeie woorde; ek dra my gedigte voor aangaande 'n Koning; my tong is die pen van n vaardige skrywer.
3 U is veel skoner as die mensekinders; genade is uitgestort op U lippe; daarom het God U geseën vir ewig. (God se Seun, Jesus, is geseën as Prins vir ewig)
4 Gordel U swaard aan die heup, o HELD, U majesteit en U heerlikheid (Jesus\die Prins as held wat die vrou gered het uit die kloue van die beer)
5 Ja, U heerlikheid! RY voorspoedig ter wille van waarheid en ootmoed en geregtgheid; en laat u regterhand U vreeslike dinge leer. (die prins, geswaard en ook met pyl en boog het die woud te perd ingery)
6 U PYLE is skerp; hulle tref in die hart van die Koning se vyande. (Vyande - bere)
7 U troon, o God, is vir ewig en altyd; die septer van U koninkryk is n regverdige septer.
8 U het geregtigheid lief en haat goddeloosheid. Daarom het, o God, U God U gesalf met vreugde-olie bo U metgeselle (daarom is Jesus die Prins)
9 Al U klere is mirre en alewee en kassie; uit ivoorpaleise maak snarespel U bly.
11 Hoor o dogter, en kyk en neig u oor, en VERGEEET U VOLK EN DIE DIE HUIS VAN U VADER (die dogter moes by die paleis by haar prins bly, maar sy wou terug na haar volk en huis, sy wou nie van hulle vergeet en die prins bo hul verkies nie)
12 en AS DIE KONING U SKOONHEID BEGEER - WANT HY IS U HEER - BUIG U DAN VOOR HOM NEER. (Die prins wou so graag hierdie dogter Sy bruid maak, maar sy wou nie voor Hom neerbuig nie)
Sef 3:17: "Die Here jou God is by jou, n HELD wat verlossing skenk. Hy verheug Hom oor jou met blydskap; Hy swyg in sy liefde; Hy juig oor jou met gejubel."

No comments:
Post a Comment